Suzanne van Wijk het Fiela se Kind vir die verhoog verwerk en Frans Swart hanteer die regie.  Swart het die produksie reeds twee keer in die verlede aangebied in 1997 en 2007 en het hy en Dalene Matthee voor haar dood groot vriende geword.  “Ons wil graag ook met hierdie produksie van Fiela se Kind hulde bring aan Dalene Matthee … een van Suid-Afrika se mees talentvolle skrywers.  Tydens een van ons repetisies destyds, het Dalene vir my ‘n kopie van Fiela se Kind gebring – binne in was geskrywe:  FIELA IS IN GOEIE HANDE!  DALENE MATTHEE. Dit is nou weer tyd dat ons die wonderlike storie van Fiela se Kind op die verhoog ervaar,” sê Swart.  “Ek en my span het van die staanspoor gesê ons wil nie enige vorige Fielas kopieër nie en daarom gaan hierdie produksie vars en nuut wees.  Ek is baie opgewonde wat in die kreatiewe prosesse gebeur het.  Teatergangers gaan beslis ‘n wonderlike nuwe produksie kan ervaar – en daar is natuurlik na 30 jaar ‘n nuwe generasie wat Fiela se Kind nog nooit op die verhoog gesien het nie.” Swart sê verder dat hulle deur ‘n landwye soektog is vir veral ‘n jong Benjamin en jong Nina.  “En nadat ons regoor die land meer as 300 kinders gesien het, het ons uiteindelik ons nuwe Benjamin (Vian Singleton van Meyerton) en Nina (Jaime du Toit van Vereeniging) gevind.  Hierdie twee is ongelooflik talentvol en gaan beslis die baie belangrike rolle van die jong Nina en Benjamin volstaan.  Ek is net so opgewonde oor Shaleen Surtie-Richards, die oorspronklike Fiela.  En dan het ons twee wonderlike jong akteurs as die ouer Nina (Marissa Claasen) en die ouer Lukas (Phillru van Achterbergh.)”