Shaleen Surtie-Richards het op Upington grootgeword waar haar pa, Shagan, ’n skoolhoof was en ma Ellen ’n onderwyseres, en het Shaleen haar ook as onderwyseres bekwaam.  Die destydse Departement van Kleurlingsake wou ’n dramagroep op Upington begin waarin hulle veral jongmense wou oplei.  “My ma het my gesoebat om te gaan, want ek wou nie, het nie lus gehad nie, maar het uiteindelik ingestem, net om haar te please”, vertel Shaleen.  Daarna was daar baie jare op die amateurverhoog terwyl sy onderwyseres was.  Een van haar hoogtepunte op die amateurverhoog was in die stuk Die Swerfjare van Poppie Ngema in die legendariese Kaapse teater, Die Ruimte.  Shaleen het eers in die tagtigerjare ’n professionele akteur geword, en is sedertien ‘n huishoudelike naam.  Haar verhoogwerk werk die afgelope 30 jaar sluit in Hester in Fugard se Hallo en Koebaai (Fleur du Cap-teater-toekenning, beste aktrise, 1985), Fiela se Kind by die destydse Nico Malan-teater, Esther van Ryswyk se produksie van Hallo en Koebaai in 1987 (AA Life Vita-toekenning, mees uitstaande aktrise in 'n Afrikaanse stuk), Just like home (Pieter-Dirk Uys, 1989), Adam Small se Kanna Hy Kô Hystoe en Shirley Valentine (2008-2009).  Haar talle televisieverskynings sluit in optredes as aanbieder en rolle in dramas en reekse soos Generations, Sewende Laan en veral die rol van Nenna Willemse in Egoli.  Sy het die rol van Fiela vir die bekroonde filmweergawe van Fiela se Kind in 1988 ook vertolk.  Sy werk ook op die radio as verteller en aktrise, en is eersdaags te sien as Charmaine in e-tv se nuwe reeks, Broken Vows.