Toe die teatergode wink, was Johny Klein gereed om te antwoord en sedertien laat hy geregtigheid geskied aan enige rol wat na sy kant toe kom.  Johny is ‘n trotse boorling van Groblershoop in die Noord–Kaap.  Terwyl die geleenthede in ‘n klein dorpie maar skraps is, het hy nog altyd geweet dat hy sy roeping moet vervul.  Na sy formele opleiding by die Tshwane Universiteit van Tegnologie, het die gesoute aktrise en teater-ghoeroe, Ilse Klink, hom onder haar vlerk geneem en verder help slyp aan sy talente.  Johny is op sy beste voor ‘n stampvol gehoor en het hy ondermeer uitgeblink as die nimlike Mnr. Pret wat skoolkinders landwyd in vervoering het.  Een van sy heel grootste drome is bewaarheid toe hy die rol in Fiela se Kind losgeslaan het en saam Shaleen Surtie-Richards die verhoog deel.  Buiten sy verhoogwerk het Johny homself ook laat geld in ‘n lang lys korporatiewe projekte.  Verder is hy ‘n gesogte beoordelaar vir die ATKV se landwye skooldramas.  ‘n Televisieloopbaan was onafwendbaar. Johny het aanvanklik sy staal gewys as Alex in die KykNET-sepie Villa Rosa en het al gesig gewys in reekse soos Katinka Heyns se Song vir Katryn en Plek van die Vleisvreters uit die pen van Chris Vorster.  Sy rol as die skattige Donovan van die sepie Muvhango het onlangs van hom volksbesit gemaak.