Dirk Vermeulen het sy dramagraad by die Universiteit van Pretoria verwerf en daarna ‘n jaar nagraads by die Universiteit van die Witwatersrand spandeer.  In 1978 sluit hy by SUKOVS in Bloemfontein aan en van 1979-1982 is hy lid van die SWARUK gesleskap in Windhoek.  Gedurende die tydperk vertolk hy rolle soos Tjokkie, die titelrol in P.G. du Plessis se Siener in die Suburbs, Gert Koei in Mooi Maria, Archibald in ‘n Sederval in Waterkloof saam met Wilna Snyman en vele meer. Hy werk ook saam met regisseurs soos Peter Kleinschmidt van Duitsland, Hermien Domisse, Mees Xteen en George Ballot.  Vanaf 1983 is hy terug in Johannesburg as vryskut akteur, vertaler van oorklankingstekste, oorklankingsregisseur en regisseur van TV programme soos Tekkies en Mini TV.  Hy spits hom meer toe op TV en film werk, maar kry tog geleentheid om te werk aan produksies soos Nag van Legio van P.G. du Plessis en Custom of the Country onder regie van Janice Honeyman asook Bartho Smit se Bacchus in die Boland.  Oor ‘n tydperk van meer as 30 jaar is daar net te veel TV produksies en films waarin hy opgetree het om almal te noem. Wie onthou nog reekse soos Fynbos en Vyfster of die Boetie Gaan Border toe films.  Meer onlangs was hy in Binneland, Getroud met Rugby, Erfsondes, Hartland, Pandjieswinkelstories en Treurgrond.  Onlangse films sluit Verskietende Ster en Nothing for Mahala in. Dirk het die rol van die oupa vertolk in Lefra se 2015 klug, My Boetie se Boetie se Boetie se Baba.  Dirk is ook tans te sien in die rolprent Voëlvry en skiet  binnekort aan die nuwe Afrikaanse film, Vuil wasgoed.